Debat

Geskiedenis

Die skool se Debat- en Kultuurvereniging is op 21 Julie 1920 gestig. Kort daarna is die eerste interskooldebat teen die Nederlandse skool gehou.

Geleentheid tot deelname

Die skool skryf jaarliks agt junior debatspanne (drie lede per span) en agt senior spanne (twee lede per span) vir die Nasionale Debatskompetisie van die ATKV in. Sedert 2016 neem die skool ook aan die Dink-of-Sink-kompetisie deel. Voornemende debatteerders word uitgenooi om hul slag tydens die interne debatskompetisies te wys, voordat die ATKV-spanne saamgestel word.

Prestasies

Affies het ‘n lang verbintenis met Nasionale Debatskompetisie en het die eerste keer in 1973 as wenners uit die stryd getree. Sedertdien het die skool hom gevestig as een van die land se voorste debatskole.

Tussen 2015 en 2019 het Affies 22 spanne (junior en senior) in die ATKV-finaal gehad wat vier eerste plekke behaal het. In 2016 tree Affies tot Afriforum se Dink of Sink-kompetisie toe en behaal met sy senior span ‘n derde plek in die landswye finaal. In 2017 was een junior span die naaswenners in Gauteng en in 2019 wen Affies se senior span die landswye finaal. Affies wen die Agenda-debatskompetisie (parlementêre styl) wat vir die eerste keer in 2019 aangebied is.

In 2020 het al agt Affies se senior spanne na die ATKV-halfeindronde deurgedring asook vyf van die skool se agt junior spanne. As gevolg van Covid-19 is alle verdere ATKV-skolekompetisies na die eerste ronde afgelas.