Die kragmetings tussen Koshuis en Dorp (die dagskoliere) op talle terreine van die skoollewe is hoogte- punte op die Affie-kalender. Die eerste kragmeting van die jaar is die atletiekinterhuis waartydens die koshuis die spanne van die dagskoliere die stryd aansê. Later in die jaar ding die koshuisspan en die dorpspan ook in ander aktiwiteite mee: swem, rugby, krieket, waterpolo, hokkie en gholf.
Gesamentlike sosiale geleenthede word vir die kosgangers van AHS en AHMP gereël en die seuns word toegelaat om laatmiddag by vriendinne in die meisieskoshuis te gaan oë wys.
Koshuisleerlinge word hartlik uitgenooi om by die gemeente-aktiwiteite van die Oos-kerk in te skakel.
Die koshuis sou dwarsdeur die geskiedenis ‘n beduidende rol speel om ‘n besondere etos in die skool te help skep. SJ Roos, ‘n oud-leerling uit die 1930’s, vertel hoe die koshuisseuns reeds tóé soos “vriende en broers” saamgeleef het. Tot vandag toe is dit waar – dáárvan sal enige Affie getuig.