Affies se prestasies op sportgebied is alombekend. Deur die jare het talle oud-Affies die sportsoorte wat hulle op skool beoefen het, verder gevoer en op provinsiale en nasionale vlak naam gemaak. Onder die jonger garde tel sterre soos die twee kapteine van die Proteas, AB de Villiers en Faf du Plessis, Springbokke soos Pierre Spies, Fourie du Preez en Wynand Olivier en gholfspeler George Coetzee. Die skool se rugby- en tennisklubs is reeds in 1920 gestig. Kort daarna is swem en atletiek ook aangebied. Benewens die sportsoorte wat hierbo genoem word, bied die skool ook krieket, waterpolo, hokkie, gholf, landloop, fietsry, skaak, jukskei en tafeltennis aan. Die nuwe oefenfasiliteite wat vir krieket gebou is, voldoen aan die hoogste standaarde.
Die skool beskik ook oor ‘n verhitte swembad wat swemmers in staat stel om winterprogramme te volg.
Die skool se gimnasium is modern en beskik oor die beste apparate en oefenfasiliteite. Twee biokinetici en twee sportwetenskaplikes is daar werksaam om te verseker dat die seuns goed gekondisioneer is vir die eise wat verskillende sporte aan hulle stel.