Op 28 Januarie 1920, vyf jaar voor die amptelike erkenning van Afrikaans, het 44 leerlinge en drie onderwysers in die woning van genl. Piet Joubert, Visagiestraat 218, vergader. Die Joubert-huis, met sy buitegeboue, was van meet af aan te klein vir die groeiende vraag na Afrikaansmediumonderrig. Die skool se positiewe vordering in sy eerste jaar het toenemende vertroue in Afrikaansmedium-onderrig geskep en in 1921 het die leerlingtal tot 149 aangegroei. Reeds in die aanvangsjare van die skool word die rugby- en tennisklubs, asook die debat- en kultuurverenigings, gestig.