Affies groet Mnr. Deon Botes

Mnr. Deon Botes, Adjunkhoof vir Openbare Betrekkinge en Sport, het aan die einde van verlede jaar ‘n pos as Hoof van Krieket by Paul Roos Gimnasium aanvaar. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het sy aanstelling pas bekragtig. Die Botes-gesin het hulle intussen in Stellenbosch hervestig. Sy eggenote, dr. Marietjie Botes, het ‘n aanstelling by die universiteit van Stellenbosch se Sentrum vir Mediese Etiek en Reg gekry. Hulle oudste, Janco, (oud-Affie, 2022) is ‘n eerstejaarstudent in Internasionale Studies by US. Hulle jongste, Nicolai, is vanjaar in graad 10 en sit sy skoolloopbaan by Paul Roos voort.
Affies bedank hom vir 25 jaar se voortreflike diens aan die skool.

Mnr. Botes het sedert 1998 hoofsaaklik Ekonomie onderrig. In hierdie tyd was hy voog vir die graad 8’s en het as hoof van die Departement Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gedien.

In 2011 is hy deur die beheerliggaam tot Adjunkhoof vir Openbare Betrekkinge bevorder en sedert 2017 was hy ook die sporthoof van die skool. Hy was 20 jaar lank afrigter van die eerste krieketspan en die stukrag agter die sukses van Affie-krieket. Hy het dié sportsoort verder as afrigter en keurder op nasionale vlak gedien. Hy was ook vir baie jare as rugbybreier langs die sportveld.

Mnr. Deon Botes
By AHS van 1998 tot 2023

As Adjunkhoof vir Openbare Betrekkinge het hy in ‘n baie gemaklike en vloeiende styl talle deurdagte aanbiedinge gelewer. Dit het deurgaans ‘n baie positiewe indruk van AHS geskep.

Mnr. Botes sal veral onthou word vir die wyse waarop hy die seuns se belange op die hart gedra het.
Affies wens mnr. Botes baie geluk met sy nuwe aanstelling. Ons beste wense vergesel hom in sy nuwe pos.

Op ‘n latere stadium sal die skool op ‘n gepaste wyse van hom afskeid neem.