Fasiliteite

Die Afrikaanse Hoër Seunskool het nog altyd daarna gestreef om vir sy leerders en ouergemeenskap wêreldklasfasiliteite daar te stel. Hier volg ‘n kort opsomming van dit wat die skool aan sy leerders bied.

Fasiliteite

Onderrigfasiliteite

Alle klasse is met rekenaars en dataprojektors toegerus. Dit stel personeel in staat om tydens lesse toegang te hê tot die internet en enige aktuele materiaal wat ‘n bydrae tot die leerproses kan maak.

Die aanvulling van Affies se ervare personeel uit eie fondse maak dit ook moontlik om klasse relatief klein te hou en om individuele aandag aan die seuns te gee.

Mediasentrum en Leeslaboratorium

Benewens die groot verskeidenheid boeke en tydskrifte wat die Affie-mediasentrum bied, het die leerlinge vanuit hierdie fasiliteit ook toegang tot die internet. Hierdie fasiliteit is na-ure tot die seuns se beskikking.

Affies het ook ‘n spesiale rekenaarsentrum waar aanvullende onderrig in Wiskunde en leesvaardighede gegee word.

Musieksentrum

Die skool se nuwe musieksentrum is in 2016 in gebruik geneem. Die musiekdepartement tel onder een van die grootstes in die land en is ‘n ryk voedingsbron vir Affies se musiekverwante kultuuraktiwiteite. Hierdie sentrum sal aan Affies die geleentheid bied om musiekonderrig te ontvang in ‘n wêreldklasfasiliteit.

Sport en Gimnasium

Affies se prestasies op sportgebied is alombekend. Deur die jare het talle oud-Affies die sportsoorte wat hulle op skool beoefen het, verder gevoer en op provinsiale en nasionale vlak naam gemaak. Onder die jonger garde tel sterre soos die twee kapteine van die Proteas, AB de Villiers en Faf du Plessis, Springbokke soos Pierre Spies, Fourie du Preez en Wynand Olivier en gholfspeler George Coetzee. Die skool se rugby- en tennisklubs is reeds in 1920 gestig. Kort daarna is swem en atletiek ook aangebied. Benewens die sportsoorte wat hierbo genoem word, bied die skool ook krieket, waterpolo, hokkie, gholf, landloop, fietsry, skaak, jukskei en tafeltennis aan. Die nuwe oefenfasiliteite wat vir krieket gebou is, voldoen aan die hoogste standaarde.

Die skool beskik ook oor ‘n verhitte swembad wat swemmers in staat stel om winterprogramme te volg.

Die skool se gimnasium is modern en beskik oor die beste apparate en oefenfasiliteite. Twee biokinetici en twee sportwetenskaplikes is daar werksaam om te verseker dat die seuns goed gekondisioneer is vir die eise wat verskillende sporte aan hulle stel.

Koshuise

Affies se koshuiskompleks bestaan uit talle huise. Die graad 8’s begin hulle koshuisjare in die oudste koshuisgebou van die skool – Huis Pannevis – wat sedert 1930 ‘n tweede tuiste vir duisende seuns op die Affie-terrein gebied het. Daar is ‘n besondere gees van samehorigheid en broederskap tussen al die koshuisinwoners en die seuns lewer ‘n sterk bydrae tot die algemene gees van die skool

Studentesentrum

Die skool beskik oor ‘n moderne studentesentrum wat in 2013 in gebruik geneem is.  Die kafeteria, 1920, is ‘n gewilde bymekaarkomplek vir die seuns en die meisies, maar ook oud-leerlinge en ouers. Dit is op weeksdae tussen 06:30 tot 20:30 oop.