Geskiedenis

Op 28 Januarie 1920, vyf jaar voor die amptelike erkenning van Afrikaans, het 44 leerlinge en drie onderwysers in die woning van genl. Piet Joubert, Visagiestraat 218, vergader. Die Joubert-huis, met sy buitegeboue, was van meet af aan te klein vir die groeiende vraag na Afrikaansmediumonderrig.  Die skool se positiewe vordering in sy eerste jaar het toenemende vertroue in Afrikaansmedium-onderrig geskep en in 1921 het die leerlingtal tot 149 aangegroei. Reeds in die aanvangsjare van die skool word die rugby- en tennisklubs, asook die debat- en kultuurverenigings, gestig.

Eerste skoolfoto, 1920

In die eerste drie jaar is samesprekings met die owerhede gevoer oor ‘n eie terrein en doelmatige skoolgebou – sonder sukses. In daardie stadium is die leerlinge in agt tydelike klaskamers van hout en sink op die erf van die Joubert-huis onderrig. In 1924 is ‘n deurbraak in die onderhandelings om ‘n eie terrein en gebou gemaak en in November 1925 het generaal J.B.M. Hertzog die hoeksteen van die nuwe skoolgebou in Bondstraat, Clydesdale gelê. In Januarie 1927  kon die skool van die Joubert-woning na ‘n nuwe gebou (tans die setel van Afrikaanse Hoër Meisieskool) verskuif.

Hysing van die Unievlag by die Lynnwoodweg-gebou, 1929

Die skool kon egter as gevolg van die stygende leerlingtal nie sy werk in die Bondstraat-gebou voortsit nie en aan die einde van 1928 is die groter gebou van die Nederlandse Hogere Oosteindschool (tans Afrikaanse Hoër Seunskool) betrek. Teen 1929 het die Lynnwoodweg-gebou ook nie meer genoeg ruimte gebied nie. Daar is toe besluit om die seuns en meisies te skei, waarna die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Afrikaanse Hoër Meisieskool in 1930 weerskante van Lynnwoodweg tot stand kom.

Die skool se terrein en geboue is deurlopend uitgebrei en verbeter. In 1929 word die eerste koshuis op die terrein voltooi. Hierdie gebou, Huis Pannevis, huisves steeds die graad 8-kosgangers. Die swembad word in 1931 ingewy en die atletiekbaan in 1932. Verdere toevoegings oor die volgende sowat nege dekades het die skool tot ‘n wêreldklasonderwys-instansie uitgebou.

Die besondere band met die Afrikaanse Hoër Meisieskool word jaarliks versterk deur talle sport- en kultuurgeleenthede wat saam aangebied word. Die atletiekinterhuis, die viering van die skool se verjaarsdag en die Affie-Artes Kunstefees is enkele hoogtepunte op die twee skole se kalender.

Affies beywer hom vir die ontwikkeling van seuns op alle terreine. Van die skool se ontstaan af is daar ‘n baie hoë premie op akademiese werk geplaas. Die afgelope paar jaar handhaaf die skool ‘n 90%-universiteitstoelatingsyfer. Affies is ook alombekend vir sy sport- en kultuurprestasies, wat op hierdie webwerf uitgebeeld word.

Vir die afgelope eeu het die skool ‘n veilige tweede tuiste vir duisende Affies geskep. Aan die begin van sy tweede eeu gaan die skool, gewortel in ‘n roemryke verlede en ‘n tradisie van uitnemendheid, in volle geloofsvertroue die toekoms in.