Gholf

Geskiedenis

Die Afrikaanse Hoër Seunskool speel sedert 1973 op ’n georganiseerde basis gholf.

Geleentheid tot deelname

Affies speel regdeur die jaar gholf. Nege spanne word in die ligas ingeskryf. Gedurende die tweede kwartaal word die Affie-kampioenskap aangebied waaraan ongeveer 60 seuns in verskillende afdelings deelneem.

Prestasies

Affies oorheers die laaste paar jaar die skolegholftoneel in Gauteng-Noord. Dit is te danke aan die groot hoeveelheid spelers wat die sport beoefen en die vlak waaarop hul meeding.  Die Affie-spelers presteer op klub- sowel as provinsiale vlak. ‘n Groot getal Affie-spelers is by junior– sowel as amateurgholf betrokke. Affies skryf baie spanne in vir ligas en toernooie om almal geleentheid tot deelname en kompetisiegholf te gee. Daar heers ‘n sterk  mededingende gees tussen die Affie- spelers wat die beste uit elke speler haal.

In 2018 en 2019 wen Affies se eerste span albei die Gauteng Noord-ligas met die 2e span wat telkens in die finaal die opponent is. In die B- en C-afdelings is die Affie-spanne telkens ook ligawenners. In die bogenoemde toernooie waaraan Affies jaarliks deelneem was ons die laaste twee jaar telkens die wenspan.

In 2019 word Affies genooi om deel te neem aan die Johannesburg skoleliga wat grotendeels uit Engelse privaatskole bestaan.  Affies gebruik hierdie geleentheid om twee junior spanne in die B-afdeling in te skryf en dit gaan voort in 2020. Tydens die Affie-feestoernooi  word ‘n junior span gekies om deel te neem. Ook vir die Grey High toernooi word twee junior spanne gekies.

Opponente van die afgelope twee jaar

Maritzburg College, Woodlands College, Grey Kollege, Paul Roos Gimnasium, Grey High School, Michaelhouse, Outeniqua, Hilton College, Paarl Gimnasium  en Pretoria-skole, soos Waterkloof, TUKS Sportskool en Pretoria Boys High, wat in die plaaslike skoleliga speel.

Toernooie en toere

Gedurende die eerste en tweede kwartaal speel die skool in die Voorsitterstrofee-liga, en tydens die tweede en derde kwartaal neem Affies aan die Gauteng-Noordliga deel. Gedurende die April-vakansie nooi die skool jaarliks die top gholfskole uit om aan die Affie-gholftoernooi wat op vier bane gespeel word, deel te neem. Die skool neem ook jaarliks aan die Grey High School “Links”  feestoernooi, die Pecanwood Invitational en die Woodlands Junior Meesterskampioenskap, deel. Gholf word ook ingesluit in die derbies teen Grey Kollege, Maritzburg College en Paarl Gimnasium.

Vier- en- vyftig spelers het reeds hul provinsiale kleure op skolevlak verwerf.  Affies is vanaf 2015 een van die twee skole uit Gauteng-Noord wat kwalifiseer om aan die SA Skoletoernooi deel te neem. In 2019 het Affies se 2e span ook gekwalifiseer om deel te neem. Affies het 4 keer in die  top drie plekke geëndig.

Affies lewer top gholfspelers op

Sewe oud-Affies het Suid-Afrika al op die gholfbaan verteenwoordig. George Coetzee neem aan die Europese reeks deel.  Verskeie oud-Affies is beroepspelers wat aan die Sonskynreeks deelneem.