Skaak

Geskiedenis

Die Affie-skaakklub het in 1935 onder die leiding van mnr. Lubowski (na wie die Lubowski-toernooi vernoem is) tot stand gekom. In die 1938-jaarblad skryf een van die spelers dat “die skaakborde elke pouse beset is en gewoonlik is die speeltyd dan te kort vir die ywerige spelers”. Omdat Affies in 1940 steeds die enigste skool in Pretoria was wat skaak aangebied het, is ‘n wedstryd tussen die skool en die Pretoria Skaakklub gereël.

Geleentheid tot deelname

Benewens Affies se o/15-, o/17- en o/19-skaakspanne het die skool ook ‘n ontwikkelingspan vir beginners. ‘n Onbeperkte aantal seuns word tot laasgenoemde toegelaat.

Spanne neem aan die individuele D4- sowel as D4-span en -ontwikkelingsligas deel. Beide individuele- en spanligawedstryde is die eerste stap na Top-skole, provisiale en uiteindelik nasionale deelname.

Opponente van die afgelope twee jaar

In die liga is Affies se gereelde opponente skole soos Eldoraigne, Waterkloof, Menlopark, Afrikaanse Hoër Meisieskool, Boys High en Sutherland. Buite Pretoria ding die skool ook teen Grey Kollege en ander skole wat spanne vir die nasionale kompetisie oplewer, mee.

Toernooie en toere

Die Affie-skaakspanne neem ook aan die SA Top Skole Skaaktoernooi en die Gauteng Top Skole-toernooi deel. Jaarliks word daar ook aan die Grey-uitnodigingstoernooi te Bloemfontein deelgeneem, waar meer as 35 spanne van reg oor Suid-Afrika vir hul plek op die ranglys meeding. 

Prestasierekord

Affies lewer top skaakspelers op. Die skool lewer jaarliks spelers op wat in die provinsiale span opgeneem word.

Aan die einde van die ligarondtes in 2018 en 2019 dring drie van die AHS spanne deur na die D4 skolespanliga–uitspeelrondtes. Gedurende 2020 en 2021 kon al die liga-wedstryde nie plaasvind nie as gevolg van Covid-19.

In 2022 verteenwoordig vier leerlinge Gauteng-Provinsie by die Interstreek Toernooi.