Algemeen

Departementele aanstellings

‘n Woord van gelukwensing aan me. Yvonne Bredell en mnr. Schalk Wessels wat deur die onderwysdepartement in bevorderingsposte aangestel is – me. Bredell as hoof van die Departement Engels en mnr. Schalk Wessels as adjunkhoof.

Me. Yvonne Bredell het haar Affie-debuut as Engels-onderwyser in 2001 gemaak en het sedert 2008 die leiding as vakhoof geneem. Wat voogwerk betref, het sy as fasehoof opgetree. Op buitemuurse terrein is sy nou betrokke by vakverwante aktiwiteite, openbare redevoering en debat. Sy het ook vir baie jare as die skool se tafeltennisvoog diens gelewer. Verder het sy in die skool se beheerliggaam gedien.

Mnr. Schalk Wessels het in 2003 aan Affies matrikuleer, waarna hy ‘n regskwalifikasie verwerf het en etlike jare in dié veld gewerk het. Nadat hy hom as onderwyser bekwaam het, is hy in 2012 by sy alma mater vir Engels en Lewensoriëntering aangestel. Van 2017 af het hy as vakhoof vir Lewenoriëntering opgetree. Wat voogwerk betref, het hy as graadvoog, fasevoog en hoof van dissipline diens gelewer en is verder as voog by die Affieraad betrokke. By die koshuis is hy vir Huis Pannevis verantwoordelik. Mnr. Wessels dien ook in die skool se beheerliggaam. Op die sportveld lewer hy ‘n bydrae as rugby-, atletiek- en krieketafrigter. 

Departementele aanstellings Read More »

Affies is 97 jaar jonk!

Die Afrikaanse Hoër Seunskool vier vandag sy sewe-en-negentigste verjaarsdag!

Die skool is in 1920 begin in die woonhuis van generaal Piet Joubert te Visagiestraat 218. Daar was aanvanklik 44 leerders en drie onderwysers.

Vandag spog Affies met meer as 1300 seuns, en kyk ons dankbaar terug op die skool se roemryke verlede.
Ons dank ons Hemelse Vader vir Sy leidende en beskermende hand oor dié skool.

Ons sien met vertroue uit na die volgende 97!.

Affies is 97 jaar jonk! Read More »