Stefan Jacobs wen gholftoernooi

Stefan Jacobs, graad 11, het die afgelope naweek die Nomads Noord en Suid Kampioenskap gewen. Wandré Snyman, graad 9, het in die 45ste plek geëindig.
 
Hierdie junior toernooi is op 22 en 23 Augustus op die Pecanwood Gholfbaan oor 3 rondtes gespeel en is deur Golf RSA aangebied. Spelers van regoor Suid-Afrika het deelgeneem.

Stefan Jacobs wen gholftoernooi Read More »

Affie-lemnaeler in Tokio

 
Sterkte aan Ntando Mahlangu wat op 19 Augustus na Tokio vertrek het om aan sy tweede Paralimpiese Spele deel te neem.

Hy was reeds as veertienjarige in Rio de Janeiro op die podium en hoop om dié prestasie vanjaar te herhaal of selfs te verbeter.

Ntando neem aan die verspring sowel as die 200 m deel. Affies sien met groot verwagting na sy vertonings uit.
 

Affie-lemnaeler in Tokio Read More »

Nuusbrief, 11 Augustus 2021

RAPPORTE EN OUERAANDE

U seun se rapport word Vrydag (13 Augustus) elektronies aan u gestuur. Let asseblief daarop dat die rapport slegs die afgelope mini-eksamen se punte bevat.

As gevolg van die Covid-regulasies is ons genoodsaak om vanjaar virtuele oueraande op Woensdag 18 en Donderdag 19 Augustus te hou. U moet asseblief vooraf vir die genoemde datums self ‘n afspraak tussen 17:00 en 20:00 met u seun se vakpersoneel maak. ‘n Aparte brief met die spesifieke instruksies sal gestuur word.

Ons doen ‘n dringende, dog vriendelike, beroep op alle ouers om u seun se rapport met hom te bespreek en om enige probleme met sy vakpersoneel op te neem. Die graadvoogde is ook beskikbaar om u by te staan.

 

BUITEMUURSE AKTIWITEITE

Volgens die nuutste Staatskoerant mag alle skoolaktiwiteite binne die voorgeskrewe protokol hervat. Toeskouers word ongelukkig steeds nie toegelaat nie. Seuns moet asseblief met hul afrigters kontak maak oor hul oefentye en wedstryde. Ons het drie interskole wintersportbepalings teen Jeppe (21 Augustus), KES (28 Augustus) en PBHS (4 September). Alhoewel al drie dae tuisbepalings is, sal sekere spanne, as gevolg van die beperking op getalle, op ons opponente se velde moet speel. Daar is heelwat ander wedstryde vir hokkie en ander sportsoorte wat tussendeur geskeduleer is.

Die vier skole wat by die interskole betrokke is, het ooreengekom dat die A- tot D-rugbyspanne by die o/14’s, o/15’s en o/16’s sal speel. By die seniors word daar beplan vir rugbyspanne 1 tot 6. In hierdie stadium is daar wedstryde vir alle hokkiespanne.

Aangeheg by hierdie skrywe is ‘n memorandum waarop die meeste openbare seunskole in Gauteng gesamentlik ooreengekom het. Dit handel hoofsaaklik oor die wyse waarop ons terugkeer na sport en lê veral klem op die feit dat daar steeds geen toeskouers mag wees nie en dat ouers vriendelik versoek word om nie langs skoolheinings saam te drom in ‘n poging om die wedstryde te kyk nie. Sover moontlik sal alle hokkie- en rugbywedstryde via stromingsdienste uitgesaai word. Vergewis uself asseblief van die inhoud en by voorbaat dankie vir u ondersteuning in dié verband.

Nuusbrief, 11 Augustus 2021 Read More »

Twee Affies in SA O/18-toergroep

Baie geluk aan Stian de Bruyn (gr. 12) en Risima Sambo (gr. 11) wat by die SA O/18-toergroep ingesluit is.
Hierdie twee Affies is ook die enigste twee verteenwoordigers van die ganse Blou Bulle-streek in die nasionale groep. Die toergeselskap reis op 31 Julie na Georgië, waar hulle op 4, 7, 11 en 14 Augustus teen die nasionale O/18-span te staan gaan kom.
 

Twee Affies in SA O/18-toergroep Read More »