Hierdie nasionale vasvrakompetisie het op 14 Oktober aanlyn plaasgevind. Affies het ’n span elk in die junior en senior afdeling ingeskryf.
Die junior span, bestaande uit Wian van Rooyen (gr. 10), Ignus Ferreira (gr. 10) en Ruben Pienaar (gr. 9) het onder die top tien geëindig.
Die senior span (foto), Jonty Bleeker (gr. 12), Jan Wiese (gr. 12) en Joshuan du Toit (gr. 11) het na 67 spannende vrae as die nasionale wenners uit die stryd getree.
Die Affie-drumline onder die leiding van me. Ronel du Plessis, perkussie-onderwyser, het die seuns by vanoggend se byeenkoms op die A-veldpawiljoen op drie werke trakteer. Die groep bestaan uit Mikael Wiese (gr. 11), Nikkie Lindholm (gr. 11), Ruben Janse van Rensburg (gr. 10), Ben van Zyl (gr. 11) en Rowan Egen (gr. 9).
Affies se Innovasie- en Tegnologieklub het gister onder die entoesiastiese aanvoering van mnr. Deon Koegelenberg (beheerliggaamlid vir IKT), mnr. Kenny Erasmus, me. Hannie van der Merwe (IT-onderwysers) en ander personeellede vir die eerste keer vergader. Die geleentheid is ook deur die hoof, mnr. Peregrine Joynt, bygewoon, wat ‘n sterk voorstander van hierdie inisiatief is.
Hierdie eerste byeenkoms is deur 23 seuns bygewoon en hulle is aan die vier stasies bekendgestel wat in die mediasentrum opgestel is. By die eerste stasie word robotika beoefen, by die tweede een kan Arduino-borde gebou en geprogrammeer word, sowel as legkaartprogrammering geleer word. Stasie drie is vir hommeltuie wat die klublede kan programmeer en vlieg. By die vierde stasie is 3D-drukkers beskikbaar, waar modelletjies vervaardig kan word.
Klubbyeenkomste is vir Dinsdagmiddae geskeduleer, maar dit staan seuns vry om dié veld ook pouses en ná skool te verken.
Dit is selfs moontlik om sekere items, soos boeke, vir ‘n tyd “uit te neem”.