Rugby

Geskiedenis

Affies se rugbyklub is op 4 Mei 1920 gestig. Op 12 Mei 1921 is daar vir die eerste keer teen Pretoria Boys High gespeel. Die eerste wedstryd buite Pretoria was teen Potchefstroom Gimnasium. Drie onderwysers, insluitende die hoof, mnr. Le Roux, het in hierdie span gespeel. 

Eerste Rugbyspan, 1921

Prestasies

DIREKTEURS- EN BEELDTROFEE: 
  • 21 keer in finaal
  • Wen 14 keer
  • Speel 4 keer gelykop
SUPER 12/SUPER 16: 
  • Affies neem deel tussen 1999 en 2006
  • Wen 6 keer die finaal
  • Wen 5 keer die algehele kompetisie
NOORD-TRANSVAAL EN BLOU BULLE FINAAL:
  • 25 keer gewen 1940 – 2006

 

Geleentheid tot deelname

Affies stoot jaarliks ongeveer  30 spanne in die veld wat aan 450 seuns die geleentheid gee om rugby te speel.

Affies se eerstespan is jaarliks onder die top 10 skolerugbyspanne op die nasionale ranglys. Die gemiddelde wenpersentasie van Affie-rugby oor die afgelope vyf jaar is 81.2%.

Opponente van die afgelope twee jaar

Outeniqua, Boland Landbou, Paarl Gimnasium, Paarl Boys High, Pretoria Boys High, Grey Kollege, Maritzburg College, Jeppe, Waterkloof, Diamantveld, KES, Westville Boys’ High, Glenwood en Helpmekaar Kollege

Toernooie en toere

Elke tweede jaar reis alle rugbyspelers vir derbies na Pietermaritzburg (Maritzburg College), Bloemfontein (Grey Kollege), Durban (Westville Boys High) en Kaapstad (Paarl Gimnasium).

Die eerstespan en A-spanne speel jaarliks in die Wildeklawertoernooi en die eerstespan ondersteun die Paasnaweek feestoernooie indien hulle bepalings dit toelaat. Die eerstespan is in 2018 en 2019 na die World Schools Festival in Paarl en Stellenbosch onderskeidelik genooi – slegs een van twee spanne in Gauteng. Die eerste- en tweede rugbyspan neem ook deel aan die Noord-Suid toernooi in Pretoria.

Die o/16A-span neem jaarliks aan die Paarl Gimnasium-toernooi deel. Die derdes en vierdes neem aan die Mauritz Hansen Rugbyweek deel. Die o/15A’s speel in die Francois Swart-week (wat jaarliks by Affies aangebied word) en die o/14A’s in die Outeniqua-toernooi. Die o/14-, o/15- en o/16C- en D-spanne neem jaarliks aan die Amajuba-toernooi in Volksrust deel.

Affies word ook gereeld genader om groot rugbytoernooie aan te bied. In 2010 was die skool gasheer vir die Wildeklawer-toernooi, in 2008 vir die hoërskole Cravenweek, in 2011 vir die laerskole Cravenweek en in 2016 die LSEN Cravenweek. In 2020 sou Affies die World Schools Festival aangebied het.  Affies se velde word ook dikwels vir oefeninge deur die Bulle en die Springbokke gebruik.

Afrigting

Affies het sedert 2020 ‘n nuwe hoof van rugby wat verantwoordelik is vir alle afrigters se ontwikkeling. Afrigters kry deurlopend die geleentheid om kursusse by te woon en word gereeld blootgestel aan internasionale tendense. Nasionale sowel as internasionale afrigters bied oefen- en opleidingsessies vir Affies aan. Johann van Graan, oud-Affie en tans hoofafrigter van die Ierse klub, Munster, is ‘n voorbeeld. Ander afrigters/spelers wat die afgelope twee jaar betrokke was, sluit in Pine Pienaar, Fourie du Preez, Victor Matfield, Richie Gray, Reggie Goodes en Gary Botha.

 

Ons is bevooreg dat 28 van die 35 afrigters by Affies onderwysers is. Dit beteken dat die opvoeding van die seuns steeds voorrang geniet. Die huidige eerstespan-afrigter (mnr. J. Koch) verteenwoordig die Blou Bulle op o/18-skolevlak (Cravenweek) en die hoof van rugby (mnr. R. van der Merwe) verteenwoordig die Akademiespan. Mnr. H. van Jaarsveldt tree op as sameroeper van die keurders van die o/16 Blou Bulle, asook spanbestuurder van die o/18 sewes Blou Bulle.